1 JANUARIE 2024.
NUWEJAARSBOODSKAP VAN ADV. JURG PRINSLOO SC, LEIER VAN DIE AFRIKANER SELFBESKIKKING PARTY.
Dis ʼn nuwe jaar.
ʼn Skrikkeljaar.
Vol vooruitsigte van allerlei dinge waarmee ons besig gehou kan word of waarmee ons onsself besig kan hou in 2024.
Ook op die politieke terrein is die vooruitsigte vir die Afrikanervolk baie ernstig.
Die aftakeling van die land se infrastruktuur en korrupsie op alle vlakke van die huidige kommunistiese ANC-regime toon geen verbetering nie.
Daarby het die rewolusionêre klimaat waarna ek in my vorige nuwejaarsboodskap verwys het, sedertdien verskerp, met onder andere die stigting van die Umkhonto we Sizwe politieke party, Malema se voortgesette anti-ligvellige retoriek, die skepping van ʼn nuwe “polisiemag” van 6000 “spesiale wetsvoorkoming bewaarders” wat eensydig deur Panyasa Lesufi, premier van Gauteng in 2023 op die been gebring is, en die voortgesette terroristiese plaas-aanvalle en -moorde op ligvellige boere. Geldwa-rowe en ontvoerings het alledaags geword. Polisie-lede is nou gereeld betrokke by ernstige misdaad.
Hierdie agtergrond het die ideale teelaarde geskep om Afrikaners vatbaar te maak vir enige sogenaamde “ontsnappingsplan” uit die ANC-beheerde Republiek wat deur linkse sogenaamde Afrikaner-leiers aan hulle opgedis word. Een daarvan is die sogenaamde afstigting van die Wes-Kaap.
Daardie plan behels dat die Afrikaner-minderheid van die Wes-Kaap moet opgaan in ʼn nuwe sogenaamde “Wes-Kaapse nasie” wat sal bestaan uit alle rassegroepe en kultuurgroepe binne die Wes-Kaap, wat dan as sodanige “nasie” sal afstig uit die res van Suid-Afrika nadat die hele Wes-Kaap so besluit het in ʼn referendum.
Die spreekwoordelike geelwortel wat in die verband voor die Wes-Kaapse Afrikaners gehou word is die belofte van “selfbeskikking” vir hierdie sogenaamde Wes-Kaapse “nasie”.
Daardeur werp die sogenaamde Afrikaner-leiers wat dit voorstaan, eerstens finaal hul volkstaat-maskers af en staan hulle ontbloot as dissipels van die vernietigende multikulturalisme wat tans oral in die wêreld chaos skep.
Tweedens beoog hulle openlik die ondergeskiktheid van die Wes-Kaapse Afrikaners aan die politieke wil van die getalsmeerderheid van die ander kultuurgroepe in die hele Wes-Kaap. Van Afrikaner-selfbeskikking is daar in werklikheid geen sprake nie !
Ons volk het ons beheer oor ons eie vaderland verloor deur die oorgawe van sekere mede- Afrikaners in April 1994 aan ons volk se grootste politieke vyande sonder om ons Godgegewe vryheid in ons eie volkstaat te verseker.
2024 sal na my mening wys hoe sterk die wil onder Afrikaners is om dringend weg te breek van daardie vernietigende politieke pad, en te konsolideer in ʼn vertroubare poltieke volksfront.
En dan, as ons ons deel in daardie verband gedoen het, mag God ons volk begenadig met wysheid, krag en die nodige middele om ons ware selfbeskikking te verwesenlik in ons eie volkstaat !