Afrikaner Selfbeskikking Party
Beleidsmanifes

  1. Selfbeskikking

    Selfbeskikking is die reg van ‘n volk om oor elke faset van sy bestaan, sonder inmenging, self te beslis.

    1. Die Party aanvaar as uitgangspunt dat die vreedsame naasbestaan van volke, en onderlinge samewerking tussen hulle, die beste gedien kan word deur die volle verwesenliking van elkeen se reg op selfbeskikking.
    2. Selfbeskikking vir ons volk, die Afrikanervolk, sal met al die mag tot die Party se beskikking nagestreef word.
    3. Terselfdertyd word alle ander volke se reg op volle politieke selfbeskikking erken.
    4. Volle politieke selfbeskikking kan alleen verwesenlik word deur die maksimale vestiging van elke volk in sy eie gebied.
    5. Magsdeling, in watter vorm en op watter vlak ook al, is onversoenbaar met ons volk se selfbeskikking en word verwerp.
  2. Algemene Staatkundige Beleid

    1. Die Afrikanervolk

      1. Ons volk, die Afrikanervolk, het ‘n onvervreembare reg op selfbeskikking.
      2. Ons maak aanspraak op die uitoefening van ons volk se selfbeskikkingsreg binne die grondgebied van ons volk soos histories verwerf by wyse van verdrag, besetting, ooreenkoms, ruiling en soos statutêr aan hom toegeken voor 27April 1994.
      3. Die verkryging van volle soewereiniteit van ons volk binne die voormelde grondgebied of sodanige deel daarvan as wat ons volk in ʼn volkstemming mag bepaal, is ons staatkundige eind-doelwit.
      4. Politieke regte en die reg op grondbesit sal in ons vaderland gereguleer word om ons volk teen vreemde oorheersing te beskerm.
      5. Die Party sal ‘n Afrikaner-meerderheidsbesetting in ons vaderland te alle tye daadwerklik bevorder.
      6. Die Party bevestig ons volk se tradisionele demokratiese staatkundige bestel en sal die republikeinse staatsvorm handhaaf.
      7. Enige wetgewing wat ons volk se selfbeskikkingsreg aantas of belemmer, sal deur die Party beveg word.
      8. Betrekkinge met ander volke sal deur ʼn Afrikaner-regering op ‘n interstaatlike en intervolkige grondslag gereël word.
    2. Ander inheemse volke van Suid-Afrika

      Met erkenning van die selfbeskikkingsreg van alle volke, sal die Party nie voorskriftelik optree met betrekking tot die grondwetlike ontwikkeling van ander volke nie, behoudens ons eie volk se reg op selfbeskikking.

  3. Onderwysbeleid

    1. Die party erken en eerbiedig-
      1. ons volk se reg om sy onderwysstelsel te bepaal met behoud van die beginsels van Christelik-volkseie onderwys en in besonder moedertaalonderwys;
      2. die reg van elke ander volk om sy eie onderwysstelsel uit te werk.
    2. Dit is derhalwe die Party se standpunt dat elke volk se onderwysowerheid, onderwyskundige struktuur, onderwysvoorsiening en onderwysinstellings tot op tersiêre vlak op die grondslag van eie verantwoordelikheid en kultuurgebondenheid uitgebou moet word.
    3. Die volgende doelwitte sal nagestreef word:
      1. Om die hoogste peil van onderrig en voorligting moontlik, te voorsien.
      2. Om ouerbetrokkenheid en –seggenskap in die onderwys te handhaaf en uit te bou.
      3. Om onderwysbetrokkenheid by alle aspekte van die opvoeding van die kind te bevorder.
      4. Om die professionele status van die onderwyser en dosent te beskerm en uit te bou.
      5. Die Party sal hom vir interstaatlike samewerking op onderwysgebied beywer, veral met die oog op onderwysstandaarde.
  4. Sportbeleid

    1. Ingevolge die party se staatkundige beleid beskik elke volk oor die soewereine reg om sy sport te beoefen op ʼn wyse wat gestalte gee aan sy eiesoortige sportkultuur
    2. Die beheer, administrasie, afrigting en beoefening van sport vir ons volk moet so behartig word op skool-, klub-, provinsiale en nasionale vlak dat dit verteenwoordigend is van ons volk.
    3. Dit is die Party se standpunt dat die keuse van embleme en die toekenning van kleure aan verteenwoordigenede sportlui by elke volk moet berus en slegs ten opsigte van sy eie burgers moet geld.
    4. Internasionale deelname aan sport sal ondersteun word mits daar nie aan ons sportlui eise gestel word om hulle sport-huishouding in stryd met die Party se staatkundige beleid in te rig nie.
  5. Gemeenskapsbou

    1. Streekontwikkeling met die oog op desentralisasie en die doeltreffende benutting van hulpbronne sal bevorder word.
    2. Gemeenskapsontwikkeling

      1. Aandag sal aan die proses van dorpstigting gegee word met die oog op die bespoediging daarvan
      2. Die Party beskou dit as noodsaaklik dat ‘n program van gemeenskapsontwikkeling ingestel word om –
        1. die ontvolking van die platteland teen te werk;
        2. die kerklike en kultuurlewe, asook sport en ontspanning in plattelandse gemeenskappe te border; en
        3. die behoud en welvaart van klein dorpe te stimuleer.
      3. Woongebiede, dienste en geriewe

        1. Afsonderlike woongebiede vir verskillende volksgroepe sal in ons vaderland bevorder word.
        2. Elke volk geniet voorkeur wat die gebruik van dienste en geriewe in sy woongebied betref. Maatreëls teen verdringing sal behou en waar nodig, ingestel en uitgebrei word.
      4. Behuising

        1. Behuising word as ‘n primêre behoefte beskou, is eerstens die verantwoordelikheid van elke individu en geldelike hulp daarvoor sal voorkeur geniet.
        2. Besondere aandag sal aan die bevordering van huiseienaarskap gegee word en aan die behoeftes van bejaardes, behoeftiges en jong egpare
        3. Lede van die Afrikanervolk sal onder ʼn Afrikaner Selbeskikking Party-regering voorkeur geniet ten opsigte van grondbesit in die grondgebied onder sy beheer.
  6. Gesondheid, welsyn en pensioene

    1. Die Party sal strewe om toe te sien dat die hoogste mate van voorspoed en geluk vir sy mense nagestreef word en dat fisiese en geestelike welsyn hoë voorkeur geniet.
    2. Gesonde en gebalanseerde gesinsgroei sal doelbewus vir ons volk bevorder word.
    3. Wetenskaplike beplanning van volksgerigte hospitale en verplegingsdienste teneinde ‘n doeltreffende mediese infrastruktuur daar te stel, sal bewerkstellig word.
    4. Om hierdie doelwitte te bereik, sal die nodige klem op voorkomende en gedesentraliseerde gemeenskapsgesondheidsdienste geplaas word, met vermyding van die totale sosialisering van hierdie dienste.
    5. Die Party erken dat dit ‘n funksie van elke volksowerheid is om welsyndienste aan sy mense te voorsien as ‘n voorkomings-, rehabilitasie- en rekonstruksiediens.
    6. Effektiewe welsynsdienste deur die kerke en die privaatsektor word as noodsaaklik beskou en sal ondersteun word.
    7. Die professionele status van die welsynwerker, verpleegster en paramediese personeel sal met die beste diensvoorwaardes en voordele bevorder word.
    8. Die Party beywer hom vir ‘n gesonde en aaneenlopende pensioenstelsel wat met die wisselende waarde van geld rekening hou, sowel as vir ‘n geskikte mediese hulpskema.
    9. Besondere aandag sal aan die behoeftes van bejaardes gegee word.
  7. Ekonomie, finansies, hulpbronne en omgewing

    1. Vertrek punt

      1. Die Party aanvaar as vertrekpunt dat sy algemene staatkundige beleid nie dienstig kan wees aan suiwer ekonomiese en finansiële oorwegings nie, maar dat laasgenoemde ‘n belangrike faktor is by die praktiese toepassing van sy algemene staatkundige beleid.
      2. Die Party glo ook dat elke volk in ooreenstemming met sy staatkundige beleid in optimale mate vir eie ekonomiese ontwikkeling verantwoordelik is, sy eie beleid bepaal en sy eie begroting finansier en hanteer.
    2. Algemene ekonomiese doelstellings

      1. Die Party wil ekonomiese welvaart verhoog, hoofsaaklik deur die bevordering van die vrye-ondernemingstelsel.
      2. ‘n Gesonde handels- en nywerheidsbeleid sal nagestreef word, met besondere klem op die belangrikheid van private inisiatief en die vestiging van kleinsakeondernemings.
      3. Die Party sal ongesonde monopolievorming bekamp.
      4. Die Party glo aan die daarstelling van ‘n gedissiplineerde gelykmatige groeikoers in ooreenstemming met die langtermynbehoeftes van ons volk.
    3. Landbou

      1. Die Party beskou deurlopende selfvoorsiening in die land se stapelvoedselsoorte as ‘n fundamentele uitgangspunt en beskou die breë landbou as van strategiese belang.
      2. Die Party staan ‘n selfstandige en stabiele boeregemeenskap voor wat die land se landbouhulpbronne optimaal benut, en ook bewaar.
      3. Die Party glo onwrikbaar aan privaat grondbesit en kommersiële boerdery gebaseer op privaat inisiatief. Die Party verwerp enige staatsinmenging wat lei tot die kunsmatige herverdeling van landbougrond, kollektiewe grondbesit en sosialistiese landbou-ekonomiese stelsels.
      4. Die Party huldig die standpunt dat die staat hom nie met arbeidsverhoudinge in die landbou moet inmeng nie maar werkgewers moet ondersteun en aanmoedig om kompeterende diensvoorwaardes aan te bied.
      5. Die Party glo aan beperkte staatsbetrokkenheid in die landbou maar dat dit die staat se taak is om die breë raamwerk te skep waarbinne die privaat ondernemers optimaal kan produseer sonder om die hulpbronne te beskadig. Die staat se taak is gevolglik om toe te sien dat-
        1. ekonomiese stabiliteit in die land heers en ‘n effektiewe bank- en geldstelsel bestaan;
        2. wet en orde gehandhaaf word en ‘n onpartydige regstelsel bestaan;
        3. doeltreffende landbounavorsing, -voorligting en –opleiding geskied;
        4. doeltreffende wetgewing bestaan wat gekoördineerde landbou-ontwikkeling moontlik maak;
        5. die nodige stappe geneem word om ordelike bemarking op ‘n deurlopende basis moontlik te maak.
      6. Die Party glo dat die staat wel ‘n rol moet speel om billike produksiekoste en die ruilvoet in die landbou te verseker deur onder andere:
        1. Aktiewe mededinging in die verskaffing van landbou-insette te bevorder deur onder meer die landboukoöperasiewese te versterk;
        2. Monopolistiese praktyke aan bande te lê;
        3. Onnodige beskerming aan vervaardigers van boerderybenodighede op te hef;
        4. Verwerking en veredeling van landbouprodukte aktief te steun;
        5. Bekostigbare rentekoersvlakke vir die produksiesektor as uitgangspunt te aanvaar.
      7. Die Party aanvaar dat subsidies wel onder bepaalde omstandighede in die landbou aangewend moet word. Waar subsidies vir die bevordering van ‘n bepaalde doelwit aangewend word, moet dit so geskied dat dit tot die grootste voordeel van die breër bevolking as geheel sal strek.
      8. Die Party glo dat die ontvolking van die platteland teengewerk moet word deur onder meer ‘n kragtige gemeenskapsontwikkelingsprogram en die daarstelling van die nodige infrastruktuur.
    4. Handel, nywerheid en verbruikersake

      1. Die Party sal hom vir die uitbouing van die handel en nywerheid beywer. Hy is ten gunste van beskerming teen onredelike buitelandse mededinging en van ‘n doeltreffende handels- en bemarkingsbeleid met inagneming van die belange van die verbruiker en produsent.
      2. Nywerheidsdesentralisasie, finansiële en ander maatreëls, sal verskerp word om die grootste moontlike vestiging van ons volk op sy eie grond onder sy eie owerheid te verkry.
      3. Die handhawing en uitbouing van internasionale ekonomiese betrekkinge sal ondersteun word.
      4. Die Party sal hom daarvoor beywer dat alle staatskontrakte regverdig aan nywerhede toegeken word.
    5. Minerale

      Ons land se minerale moet op so ‘n wyse ontgin, veredel en verhandel word dat die maksimum voordeel vir die land daaruit verkry word.
    6. Energie

      Die Party sal daarna streef om ons land so onafhanklik moontlik te maak wat sy energie-behoeftes aanbetref deur onder meer navorsing en ontwikkeling van bestaande en alternatiewe energiebronne.
    7. Water

      Waterbronne sal ten volle bewaar en beveilig word.
    8. Omgewing

      Die Party sal hom beywer vir die implementering van ‘n nasionale omgewingsbestuurstelsel, gebaseer op praktiese en haalbare ideale om sodoende die land, die bodem, die omgewing, die ekologie en alle vorme van lewe te onderhou en te bewaar
    9. Fiskale en monetêre beleid

      Die Party staan ‘n monetêre en fiskale beleid voor met as mikpunt onder meer-
      1. ʼn gesonde groeikoers;
      2. volle indiensneming;
      3. prysstabiliteit;
      4. betalingsbalansewewig;
      5. wisselkoersstabiliteit;
      6. inflasiebeheer.
  8. Mannekrag

    1. Die Party erken en eerbiedig ook op die arbeidsterrein sy uitgangspunt van:
      1. Die selfbeskikkingsreg van ons volk en van ander volke en
      2. Hulle geografies-afsonderlike ontwikkeling.
    2. Die Afrikaner Selfbeskikking Party beywer hom vir arbeidsvoorkeur vir ons eie burgers in ons vaderland , terwyl ander volke in hul state hulle arbeidsreëlings self kan tref. Dit moet onderskraag word deur ‘n beleid van skeppende onttrekking van vreemde arbeid.
    3. Met betrekking tot ontwikkelingshulp aan buurstate word voorkeur gegee aan arbeidsintensiewe skemas ter bekamping van werkloosheid, onderindiensneming en lae produktiwiteit.
    4. In ons vaderland sal daar hoë voorkeur verleen, en aansporingsmaatreëls ingestel word, om arbeidsbesparende tegnieke, selfwerksaamheid en die selektiewe immigrasie van mense met ooreenstemmende kulture, veral uit ons stamlande, te bevorder.
    5. Die Afrikaner Selfbeskikking Party sal die voorwaardes en omstandighede waaronder werkers uit buurstate in ons vaderland aanwesig is, interstaatlik beding.
    6. Die Party sal hom vir goeie verhoudinge tussen werkgewers en werknemers beywer.
    7. Die Party onderskryf die beginsel dat vergoeding aan produktiwiteit gemeet word.
  9. Binnelandse aangeleenthede

    1. Burgerskap

      1. In ons volkstaat sal burgerskap alleen vir Afrikaners wat daarvoor kwalifiseer, toeganklik wees
      2. Politieke regte sal in ons volkstaat slegs aan ons eie burgers verleen word.
    2. Immigrasie

      1. Die immigrasie van mense met ooreenstemmende kulture, veral uit ons stamlande, na ons volkstaat, sal selektief aangemoedig word
      2. Assimileerbaarheid en die behoeftes van die arbeidsmag sal as belangrike maatstawwe vir die keuring van immigrante dien.
    3. Bevolkingsklassifikasie

      Wette vir die handhawing van die identiteit en politieke regte van ons volk sal in ons volkstaat behou of, indien afgeskaf, heringestel, verbeter en streng toegepas word.
    4. Die staatsdiens

      1. Die Party ag ‘n doeltreffende staatsdiens as die ruggraat vir goeielandadministrasie.
      2. Elke volk behartig sy eie staatsdiens.
      3. Die vergoeding en ander diensvoorwaardes van staatsamptenare sal volgens verantwoordelikheidsvereistes en op vergelykbare grondslag met die privaatsektor aangepas word.
    5. Publikasiebeheer

      By die bepaling van maatstawwe vir publikasiebeheer sal Christelike beginsels deurslaggewend wees en volkskadelike tendense bekamp word
    6. Die Party sal die beoefening van satanisme verbied en sal die ideologie van die anti-Christelike “Nuwe Wêreldorde” beveg.
  10. Justisie en veiligheid

    1. Soewereiniteit

      Die Party handhaaf die standpunt dat in ons volkstaat die Parlement soewerein sal wees.
    2. Justisie

      1. Die Party handhaaf en bevestig die onafhanklikheid van die howe van ons volkstaat.
      2. Die Party handhaaf die beginsel dat elke person geregtig is om hom te kan beroep op die toegang tot die howe van die land, om volgens die Reg reg te laat geskied.
      3. Die Party verbind hom tot die handhawing van die Gemenereg soos wat dit ontleen is aan ons stamlande en ontwikkel het ooreenkomstig die aard en kultuur van ons volk.
    3. Weermag

      1. Die Party verbind hom tot die handhawing van ‘n sterk en doeltreffende weermag ter beskerming van ons soewereiniteitsgebied.
      2. Ons glo dat die verdediging van ons volkstaat die verantwoordelikheid van sy burgers is. Die verdediging van ander grondgebiede onder beheer van ander volke in Suidelike Afrika, kan sover dit ons volkstaat raak, op ‘n geallieerde, nie-geïntegreerde basis gereël word.
      3. Ons glo dat die Weermag ‘n verdedigingsfunksie het en gebruik moet word om agressie teen ons volkstaat affektief af te weer. Ons behou egter die reg voor om enige aggressor te verdryf en te verslaan waar hy hom ookal mag bevind.
      4. Ons glo dat oudgediendes behoorlike pensioene moet ontvang en dat behoorlik in die behoeftes van die soldate se afhanklikes voorsien moet word.
      5. Ons glo aan ‘n doeltreffende burgerlike beskermingsorganisasie.
    4. Veiligheidsdienste

      1. Die Party glo dat veiligheid, wet en orde, deur ‘n gedugte, doeltreffende en goedbesoldigde veiligheidsmag gehandhaaf moet word.
      2. Ons glo dat verskillende volke deur hulle eie veiligheidsmagte gedien moet word.
    5. Gevangenisse

      1. Ons glo dat daar doeltreffende gevangenisdienste moet wees met nadruk op rehabilitasiewerk en nasorg.
      2. Ons beoog dat Gevangenisdienste ten beste as ‘n selfstandige department sal funksioneer en beoog dat behoorlik in die behoeftes van die lede in die Dienste voorsien moet word.
      3. Besondere aandag sal aan gemeenskapsdiens as straf gegee word.
  11. Buitelandse beleid

    1. Algemeen

      Die Party bevestig dat –
      1. ons volkstaat ‘n soewerein onafhanklike staat moet wees;
      2. die Afrikaner Selfbeskikking Party sal deelneem aan normale internasionale en diplomatieke verkeer;
      3. die aanknoop en behoud van diplomatieke betrekkinge onafhanklik is van binnelandse politieke en ideologiese beleidsrigtings of van bestaande diplomatieke verbintenisse. Daarom sal die Afrikaner Selfbeskikking Party diplomatieke betrekkinge waardeur ons volk se belange gedien kan word, aanknoop en handhaaf met enige staat wat sy soewereiniteit erken en eerbiedig;
      4. die Afrikaner Selfbeskikking Party die reg voorbehou om ten opsigte van bepaalde internasionale geskille neutraliteit te handhaaf.
    2. Afrika

      As deel van die vasteland van Afrika sal die Afrikaner Selfbeskikking Party deelneem (en sodanige deelname soek) aan die politieke en ekonomiese interAfrika verkeer op ‘n vastelandse en streeksbasis. In die Afrika-organisasies en - kommissies kan ons eie volkstaat binne sy vermoë hulp en veral ontwikkelingshulp verleen, met dien verstande dat dit alleen sal geskied met die handhawing van ons volkstaat se eer en integriteit.
    3. Suider Afrika

      1. Die Party is bereid om in samewerking met ander Suider-Afrikaanse state vrede, stabiliteit en vooruitgang vir almal te bevorder.
      2. ʼn Afrika-Stateberaad waarvan alle onafhanklike Suider-Afrikaanse state, met behoud en erkenning van elkeen se soewereiniteit en territoriale integriteit, lid kan word, sal nagestreef word