Kennisgewing aan lede oor verkiesingsdeelname 2024

Aankondiging: Die Afrikaner Selfbeskikking Party neem nie deel aan die 2024 nasionale verkiesing nie.

Die Afrikaner Selfbeskikking Party (“AFRSP”) het besluit om nie deel te neem aan die 2024 nasionale verkiesing in Suid-Afrika nie. Die redes is die volgende:

  1. Daar is tans nog ʼn onvoldoende aantal ingeskrewe lede van die party om die verkiesingsproses effektief te kan moniteer.

Daar gaan volgens die Verkiesingskommissie meer as 20 000 stemlokale dwarsoor die land wees. Met politieke partye vir wie die uitslag van hierdie verkiesing reuse-gevolge mag inhou, is noukeurige monitering deur gemagtigde party-agente in stemlokale noodsaaklik. Die AFRSP is met sy huidige ingeskrewe ledetal nog nie in staat om in alle gebiede waar meeste van sy ondersteuners gevestig is, genoeg party-agente aan te stel nie.

Daar was reeds op hierdie vroeë stadium van die verkiesingsprosedure ʼn onreëlmatige lekkasie van sekere partye se kandidate-lyste aan privaatpersone. ʼn Amptenaar van die Verkiesingskommissie is daarvoor afgedank, maar eers nadat die inligting, insluitend persoonlike besonderhede van die kandidate, reeds versprei is.

  • Die deposito wat deur die AFRSP betaal sou moes word om maar slegs aan die verkiesing van die Nasionale Vergadering deel te kon neem, is onlangs (op 1 Februarie 2024) by wyse van regulasies in die Staatskoerant verhoog van die R 200 000 in 2019 tot R 300 000 vanjaar.  Hoewel ons uiters dankbaar is vir elke persoon wat by ons party aangesluit het en bydraes aan die party gemaak het, het die AFRSP nie tans die vereiste bedrag voor hande nie. Dit sou onregverdig wees om van indiwiduele lede te verwag om lenings te neem om daardie bedrag beskikbaar te kry.

Hierdie feite beklemtoon die noodsaaklikheid dat alle ondersteuners van die AFRSP as LEDE by die party aansluit. Met genoeg lede kan ons party-takke in al die sterkste ondersteuningsgebiede van die party hê. Sodoende  kan ons sorg  dat die party genoeg kandidate uit AFRSP lede-geledere beskikbaar het om suksesvol namens die party aan die verkiesings deel te neem, genoeg party-agente  te kan aanstel om die verkiesing in die tersaaklike stempunte te moniteer, en fondse met die duisende LEDE se relatief klein lede-bydraes bymekaar te kan maak vir deelname aan, en ʼn sterk verkiesingsveldtog vir, ʼn volgende verkiesing of verkiesings.

Hand voting drawing, election vintage

Die AFRSP is tans die enigste geregistreerde politieke party in Suid-Afrika wat hom suiwer vir die totstandkoming van ʼn Afrikaner volkstaat beywer. Die party het die nodige politieke-, en regskennis en -ervaring in sy geledere om die nodige Volkeregtelike stappe te neem vir die verkryging van ʼn Afrikaner volkstaat.

Die AFRSP durf nie enige volgende geleentheid weens logistieke, finansiële, of enige ander rede misloop nie om, deur die bewys van ons politieke mandaat namens die Afrikanervolk op ʼn internasionaal-erkende wyse soos in ʼn amptelike nasionale verkiesing, te kan doen wat nodig is om vir ons volk ʼn volkstaat te skep waar ons in nederige gehoorsaamheid aan die Drie-enige God tot ons volle potensiaal as volk kan ontwikkel en leef.

Die AFRSP is onherroeplik verbind tot die verkryging van daardie Afrikaner volkstaat.

 14 Maart 2024. JJS Prinsloo SC. Leier, Afrikaner Selfbeskikking Party.

Adv Jurg Prinsloo SC
Adv Jurg Prinsloo SC