MEDIAVERKLARING
Maandag 17 Februarie 2025. Geen embargo.
Johannesburg.
Uitgereik deur Adv. Jurg Prinsloo SC, Leier, Afrikaner Selfbeskikking Party
Kontaknommer: 078 413 8241

E: admin@afrsp.org.za
ONDERWERP: PRESIDENT TRUMP SE AANBOD AAN AFRIKANERS.
Die Afrikaner Selfbeskikking Party is dankbaar vir die uitsonderlike vriendelike aanbod van President Trump van die VSA om aan Afrikaners vlugtelingstatus te verleen indien hulle, weens die erge diskriminasie teen hulle deur die Suid-Afrikaanse regering, na die VSA vlug.
As gevolg van ons ras en kultuur as Afrikaners word daar daagliks in Suid-Afrika, ons vaderland, deur die ANC-beheerde sogenaamde Suid-Afrikaanse Regering van Nasionale Eenheid teen ons gediskrimineer. Honderdduisende blanke Suid-Afrikaners het al as gevolg van hierdie diskriminasie uit Suid-Afrika geëmigreer.
As party beroep ons ons egter op die Volkeregtelike reg op selfbeskikking van volke en verklaar dat ons onherroeplik verbind is tot verkryging van ons volk se selfbeskikking in ons eie volkstaat onder ons eie Afrikaner-regering.
Ons glo dat God dit so beskik het dat ons as eiesoortige volk hier aan die Suidpunt van Afrika ontstaan het.
Ons geskiedenis wys dat die Afrikanervolk deurentyd gestreef het na vrede en goeie verhoudinge met al die ander inheemse volke met wie hulle in kontak gekom het.
Ons geskiedenis wys verder dat ons volk op regsgeldige wyses eiendomsreg en ander saaklike regte verkry het op die grootste deel van die grondgebied van die huidige Republiek van Suid-Afrika.
Ons geskiedenis wys verder dat ons volk al eeue lank ly onder pogings van ons vyande om ons van ons regte op grond te beroof.
Ons geskiedenis wys ook dat ons lewende, liefdevolle God ons beskerm en telkemale laat triomfeer teen magtige vyande wanneer ons ons voor Hom verootmoedig en om Sy Goddelike ingryping bid. Ons glo vas dat Hy, ons Leidsman en Verlosser, ons nooit sal verlaat nie.
Waar sekere Afrikaner-politici en hul meelopers in die verlede regte van ander inheemse volke geskend het, het dit nooit gebeur met die medewete of goedkeuring van die meerderheid Afrikaner-kiesers nie. Sekere van daardie Afrikaner-politici en hul meelopers is sedert 27 April 1994 met ope arms deur die ANC in sy midde verwelkom.Ons gewete is daarom skoon wanneer ons aandring op begrip en respek vir ons volk se strewe na selfbeskikking
Die Afrikanervolk is geregtig op die Volkeregtelike reg op selfbeskikking hier in Suid-Afrika waar God ons aanwesigheid bestem het. Ons het konsekwent as volk na selfbeskikking gestreef en reeds groot offers daarvoor gebring.
Die mees toepaslike staatkundige model waardeur ons volk sy selfbeskikkingsreg uiteindelik kan uitoefen, is na ons mening ʼn soewereine Republikeinse Afrikaner-volkstaat wat ooreenkomstig ons volk se geregverdigde aansprake uit die grondgebied van die huidige Republiek van Suid-Afrika gepartisioneer kan word.
Ons het vir die internasionale erkenning van ons selfbeskikking in so ʼn Afrikaner-volkstaat die steun van sterk demokratiese state soos die Verenigde State van Amerika nodig. Ons vertrou dat die Republikeinse regering van president Trump ons volk ook in daardie opsig te hulp sal kom.
