MEDIAVERKLARING GEEN EMBARGO
ROODEPOORT, SUID-AFRIKA
15 JULIE 2024.

UITGEREIK DEUR ADV. JURG PRINSLOO SC, LEIER, AFRIKANER SELFBESKIKKING PARTY.
Kontaknommer: 073 327 2061
ONDERWERP: DIE SLUIPMOORD-AANVAL OP OUD-PRESIDENT TRUMP.
Die Afrikaner Selfbeskikking Party (“AFRSP”) het kennis geneem van die sluipmoord-aanval op die vorige president van die Verenigde State van Amerika (“VSA”), meneer Donald Trump, op Saterdag 13 Julie 2024.
Die AFRSP spreek sy walging en afsku uit oor hierdie voorval.
Dit is algemeen bekend dat meneer Trump volgens onlangse meningspeilings die gunsteling is om die presidentsverkiesing in die VSA in November vanjaar te wen.
Meneer Trump is ná sy verkiesing as president in 2016 geteiken met onsuksesvolle pogings deur die Demokratiese Party in die VSA-kongres om hom afgesit te kry as president.
Nádat hy in 2020 deur middel van ʼn betwiste verkiesing tydens die Covid 19-epidemie ontsetel is as president, is daar verskeie hofsake in verskillende jurisdiksies in die VSA teen hom aanhangig gemaak deur bekende politieke opponente .
Die eerste van daardie hofsake is teen meneer Trump se finansies gemik en hy is beveel om reuse-bedrae geld in boetes te betaal.
Die hoogste federale hof in die VSA het op Maandag 1 Julie 2024 in meneer Trump se guns bevind dat hy absolute presidensiële immunitiet teen strafregtelike vervolging geniet vir amptelike handelinge wat hy binne sy uitsluitlike en finale grondwetlike bevoegdheid as president verrig het.
Die hof het verder bevind dat daar ʼn regsvermoede bestaan dat hy vir al sy amptelike handelinge immuniteit teen vervolging geniet.
Die gevolg van daardie uitspraak is dat al die aanklagte in hofsake wat op sodanige presidensiële handelinge gebaseer is, waarskynlik sal misluk.
Dat daar op Saterdag 13 Julie 2024 ʼn aanslag tydens ʼn openbare vergadering teen meneer Trump se lewe was wat hom en ander persone verwond het en ʼn ondersteuner gedood het, sal noodwendig vrae laat ontstaan oor die motief vir hierdie sluipmoord-poging. Die AFRSP vertrou dat daar deur die Amerikaanse kongres ʼn deurtastende ondersoek ingestel sal word na die voorval.
Die AFRSP betuig graag sy opregte meelewing met meneer Trump en sy geliefdes asook met die persone wat in hierdie afstootlike voorval gedood en verwond is, en hul geliefdes.