- Ons glo in God Drie-enig, erken Sy oppergesag, beskikking oor, en leiding in, die lotgevalle van volke. Ons aanvaar in gehoorsaamheid die Bybel, as onfeilbare Woord van God, as die norm en rigsnoer vir alle uitinge van ons volkslewe.
- Ons handhaaf Christelik-nasionale beginsels oor die volle spektrum van ons volkslewe met erkenning en inagneming van godsdiens- en gewetensvryheid.
- Ons handhaaf die selfbeskikkingsreg van alle volke en ons beywer ons vir die afsonderlike voortbestaan van ons volk, die Afrikanervolk, as ‘n vrye volk in sy eie vaderland onder sy eie regering.
- Ons aanvaar die feit van ekonomiese interafhanklikheid van volke en die noodsaaklikheid van samewerking, beraadslaging en wedersydse hulpverlening. Die politieke onafhanklikheid van ons volk moet hierin egter gehandhaaf word.
- Ons beywer ons vir die mobilisering van ons volk om op elke lewensterrein ‘n vrye, weerbare volk te wees. Ons beywer ons vir ons volk se veiligheid en sal enige vorm van onwettige aggressie teen ons volk met alle mag tot ons beskikking beveg.
- Ons handhaaf Afrikaans as ons volk se taal en sal alle anderstaliges se tale respekteer.
- Ons beskou ‘n billike geografiese ordening as noodsaaklik vir die afsonderlike politieke uitlewing van verskillende volke, as waarborg vir eie vryheid, en as bolwerk teen ‘n vernietigende magstryd tussen volke.
- Ons skryf nie aan ander volke voor met betrekking tot hulle grondwetlike ontwikkeling nie, maar ons beskou gebiedskeiding as noodsaaklik vir die daarstelling van aparte vryheid en selfbeskikking van ons volk.
- Ons verwerp enige neiging tot ‘n diktatuur of staats-absolutisme, dit wil sê, die ondermyning van die demokratiese regte en vryhede van ons volk, en ons verbind ons tot die herstel van ons eie volksregering.
- Ons beywer ons vir arbeidsvrede, vir billike diensvoorwaardes en die bestryding van werkloosheid, en ons sal in die besonder waak oor die regte van sowel die werker as die werkgewer in die arbeidsituasie, die maatskaplike- en politieke lewe.
- Ons beskou deurlopende selfvoorsiening van die land se stapelvoedselsoorte as ‘n fundamentele uitgangspunt. Ons beskou die landbou as van strategiese belang en beywer ons derhalwe vir ‘n stabiele en selfstandige boeregemeenskap en vir die welvaart van ons landelike bevolking. Ons staan vir die beskerming teen onredelike buitelandse mededinging en vir ‘n doeltreffende handels- en bemarkingsbeleid, met inagneming van die belange van die verbruiker.
- Ons beskou ‘n doeltreffende staatsdiens as die ruggraat van goeie staatsadministrasie.
- Ons beywer ons vir ‘n gesonde handels- en nywerheidsbeleid met besondere klem op private inisiatief en die bekamping van monopolieë.
- Ons beywer ons vir eie doeltreffende veiligheidsdienste en vir sodanige diensvoorwaardes as wat nodig is om voldoende mannekrag en hulle tevredenheid en toewyding te verseker.
- Ons beywer ons vir ‘n onafhanklike regbank en die toepassing van die gemenereg en ʼn beskaafde regstelsel soos wat dit in ons volkslewe ontwikkel het.
- Ons beskou Christelik-volkseie onderwys, met moedertaal-onderrig, as noodsaaklik vir ons volk.
Strewe
Die AFRIKANER SELFBESKIKKING PARTY is onherroeplik verbind tot die verkryging van ons volk se vryheid in ons vaderland onder ons eie regering.