Goeiedag, Dames
Suid-Afrikaanse Dames in 2020 – Deel 2 is ‘n opvolg van laaskeer waar ons oor finansiële behoud gesels het, hierdie week, soos belowe, is ek terug met ‘n artikel oor verstandelike uithouvermoë.
INLEIDING
Of jy nou met ‘n ernstige gesondheidskwaal worstel, of in ‘n finansiële krisis gedompel is, swaar tye is onvermydelik.
Sonder voldoende verstandelike gereedheid, kan groot lewenskwessies jou vul met self-twyfel en angstigheid. Daardie ongemaklike emosies kan die weg baan na negatiewe gedagtes, wat dan jou gedrag mag beïnvloed. Dit kan weer lei tot katastrofie in die vorm van self-vervullende profesieë.
Deur verstandelik sterk te bly gedurende slegte tye, vereis dat jy jou gedagtes, gevoelens en gedrag bestuur. As jy kan aandag gee aan hierdie drie areas, sal dit jou help om enige probleem trompop te loop en met so min skade as moontlik daardeur te kom. Om die beste verstandelike weerstand te bied teen selfs die moeilikste uitdagings, wend ons die volgende ‘formule’ aan:
- BESEF DIE REALITEIT VAN DIE SITUASIE. Dit beteken nie dat jy dit goedkeur nie. Inteendeel, dit is bloot om die situasie te erken vir wat dit is vanuit ‘n realistiese oogpunt. Ek gee ‘n voorbeeld: Alhoewel ek hoegenaamd nie met SEB saamstem nie, aanvaar ek dat dit in werking is en dat dit ons burgers en ekonomie gruwelik benadeel.
Deur paniekerig te raak is heeltemal menslik, maar dit is ook ‘n vermorsing van jou kosbare tyd en energie. Deur te aanvaar wat gebeur, is die eerste stap wat jy neem om te bepaal hoe jy sal reageer.
Byvoorbeeld, een persoon sal oor SEB sê: “Dit is totaal onregverdig! Ek kan nie ‘n werk kry nie en ek weet nie hoe ek my gesin sal kan onderhou nie. Die kerk/welsyn sal maar vir ons moet sorg”.
Sy gedagtes lei daartoe dat hy terneergedruk en depressief raak, en uiteindelik ‘n ‘skop-my-maar’, fatalistiese houding ontwikkel.
‘n Ander persoon sal weer sê: “Ag, hierdie simpel SEB is nou al ‘n hele paar jaar aan die gang en dit raak nie net vir my nie, maar ook honderde duisende ander mense. Ek sal net eenvoudig iets anders vind om te doen om geld in te bring, en my gewig by ‘n party gooi wat hard namens my sal baklei om selfbeskikking te verkry, sodat nie ek óf my kinders in die toekoms óóit weer deur SEB benadeel hoef te word nie”.
Sy sienswyse help hom om kalm te bly, sodat hy produktief iets kan vind om te doen om sy gesin te versorg en ook te keer dat hy nie op ‘n negatiewe dwaalspoor beland nie.
Selfs al staar jy ‘n probleem in die gesig wat jy nie kan oplos nie, maak jy keuses oor hoe jy gaan reageer. Onproduktiewe gedrag, soos om te kla of jouself te bejammer, sal jou net laat vassit. Sulke gedrag ontneem jou van jou verstandelike uithouvermoë.
Dus is dit belangrik dat jy jouself vra, “wat is die één ding wat ek nou kan doen om myself te help?” Of produktiewe gedrag vereis dat jy een van jou vrese moet aanvat, of iets doen wat jy nie graag wil doen nie, moenie daaroor tob nie en neem eenvoudig aksie. - BEHEER ONTSTELLENDE GEDAGTES. Jou verstand kan jou beste vriend of jou grootste vyand wees. As jy jou negatiewe gedagtes gaan glo, limiteer jy jouself en verhoed jy dat jy jou volle potensiaal bereik.
Deur byvoorbeeld te dink, “dit sal tog nooit werk nie, want ek is nie goed genoeg nie” of “ek kan dit nie meer verdra nie”, ontspoor dit jou om jou doelwitte te bereik. Dit is belangrik om agter te kom wanneer jou interne monoloog oorweldigend pessimisties raak. Onthou, net omdat jy dink aan iets, beteken nie dat dit noodwendig waar is nie.
Praat met jouself soos wat jy met ‘n boesemvriend sal praat. Wanneer jou gedagtes katastrofies of onbehulpsaam raak, reageer met ‘n meer realistiese stelling, wat jou vermoë om jou probleme te hanteer, bevestig.
Jy kan selfs jou eie slagspreuk skep wat jy aan jouself herhaal gedurende moeilike tye. Deur dit te doen, stil jy die negatiewe gedagtes wat dreig om jou af te trek. - BEREI VOOR. Moenie wag totdat ‘n probleem voor jou deur is voordat jy daarvoor begin voorberei nie. Verstandelike voorbereiding is baie soortgelyk aan fisiese voorbereiding. Terwyl jy dalk nie mag dink aan jou denkkrag totdat jy dit die nodigste het nie, is ‘n krisis nie die beste tyd om dit te begin opbou nie. Corrie Sanders het nie gewag totdat hy saam met Wlad Klitschko in die kryt gestaan het voordat hy vir die geveg begin voorberei het nie. Dink aan verstandelike krag op dieselfde wyse as fisiese krag. Daar sal tye wees wat jy al jou denkkrag sal benodig, so die beste sal wees om verstandelike gereedheid daagliks te oefen. Jy kan dit doen terwyl jy in drukverkeer sit en ‘n oponthoud veroorsaak dat jy laat gaan wees vir werk, of dalk op kantoor met daardie onhoudbare ventjie met die strignien-smile en die HR-bestuurder op speed dial, en selfs by die huis (dalk stap jou wederhelf in en vertel jou ‘n ‘snaakse’ storie wat handel oor ‘n rooi verkeerslig, ‘n minibus-taxi en jul enigste voertuig). Vind elke dag ‘n geleentheid om daardie ongelooflike verstandelike uithouvermoë van jou te oefen.
Onthou, ons volksmoeders was só gekant teen Britse beheer dat hulle sommer kaalvoet oor die mees onbegaanbare terrein in die land wou trek. As hulle daardie tyd so sterk oor ‘n saak kon voel, dan is dit mos niks minder as reg dat ons, hul nasate, verstandelik tot presies dieselfde in staat behoort te wees nie.
Tot volgende keer.
Lori