ONDERWERP: DIE EFF SE DREIGEMENT VAN “SLUITING” VAN SUID-AFRIKA OP 20 MAART 2023

Die dreigement van Julius Malema en ander lede van die EFF dat die EFF Suid-Afrika op Maandag 20 Maart 2023 sal “sluit” kan nie ligtelik opgeneem word nie.

Malema, die oud-leier van die ANC- Jeugliga, het self by herhaling in die openbaar sy nuwe party, die EFF, verbind tot rewolusie om kwansuis ekonomiese vryheid van swart mense in Suid-Afrika te verkry. In werklikheid is sy doel om die regeringsmag “op enige beskikbare wyse” oor te neem en blankes in die land van hul grond te ontneem, soos duidelik uit sy openbare uitsprake blyk.

Onder die kommunistiese ANC-regering is belastingbetalers se geld sedert 1994 op groot skaal deur politieke “comrades” gesteel en vermors. Daar is verder ooglopend toegelaat dat die infrastruktuur van die land gesteel word of weens gebrek aan onderhoud onbruikbaar raak.

Die land se ekonomie is daarbenewens jarelank verwurg met irrasionele beperkende regulasies in terme van ramptoestand-wetgewing terwyl reuse bedrae rampfondse “verdwyn” het.

Kaderontplooiing, rasgebaseerde ekonomiese voortrekkery, korrupsie, en selfs sabotasie van staatsbeheerde entiteite het tot die verdere vernietiging van welvaart in die land gelei.

Die gevolg was grootskaalse werkloosheid en armoede onder gewone Suid-Afrikaners.

.  

Die ANC het die regstelsel en sy politieke magsposisie telkemale misbruik om aanspreeklikheid van “comrades” vir hul misdade te verhoed.

Hierdie situasie skep ʼn gunstige klimaat vir die “rewolusie” van Julius Malema en sy EFF onder die dekmantel van sogenaamde ontevredenheid met die ANC-regering.

Malema se sogenaamde “sluiting” van die land op Maandag 20 Maart 2023 sal in werklikheid gewone lede van die samelewing benadeel, en nie die regering nie.

Die grootskaalse openbare misdadige stropery in Julie 2021 het die politieke onwilligheid van die ANC-regering om teen die stropers en hul politieke leiers op te tree, ontbloot

Sekere van die EFF se dreigemente ten opsigte van die sogenaamde “sluiting” van Suid-Afrika is na ons mening reeds pleging van sekere gemeenregtelike en wetteregtelike misdade. Tog is daar geen aanduiding dat die ANC-regering teen Malema of sy politieke party wil, of sal, optree nie.

Die Afrikaner Selfbeskikking Party doen daarom ʼn ernstige beroep op alle vredeliewende, hardwerkende indiwidue om nie betrokke te raak by die sogenaamde “sluiting” van die land op 20 Maart 2023 nie en om nou reeds voorsorgmaatreëls te tref om hul eie veiligheid en hul besittings te beskerm.

MEDIAVERKLARING                                                                               GEEN EMBARGO

ROODEPOORT, SUID-AFRIKA

14 MAART 2023.

Adv Jurg Prinsloo SC
Adv Jurg Prinsloo SC

UITGEREIK DEUR ADV. JURG PRINSLOO SC, LEIER, AFRIKANER SELFBESKIKKING PARTY

Kontaknommer: 073 327 2061

E: admin@afrsp.org.za