DIE SOGENAAMDE “DIVERSITEIT”- LESING BY FISH HOEK HIGH SCHOOL IN DIE WES-KAAP.

ONDERWERP: DIE SOGENAAMDE “DIVERSITEIT”- LESING BY FISH HOEK HIGH SCHOOL IN DIE WES-KAAP.

Die leier van die Afrikaner Selfbeskikking Party, advokaat Jurg Prinsloo SC, het vandag sy party se afsku uitgespreek oor die onlangse sogenaamde “diversiteit”-lesing wat ʼn vrou genaamd Asanda Ngoasheng onlangs by die Fish Hoek High School in die Wes-Kaap gelewer het.

Advokaat Prinsloo het uitlatings van Me Ngoasheng tydens die sogenaamde “lesing” as blatante anti-ligvellige en anti-Christelike opswepery en politieke indoktrinasie beskryf.

Me Ngoasheng het volgens inligting wat ontvang is, onder andere beweer dat swartmense wreed, bevooroordeeld en gemeen kan wees, maar nooit rassisties nie.

Sy het volgens die inligting onder andere beweer dat slegs blankes rassisties kan wees, dat swartmense sedert die dae van Elia bestuur (“engineered”) is om te kniel vir sogenaamde “whiteness”, en dat dit selfs onseker is of die dae van Elia ooit bestaan het, omdat die Bybelskrywers volgens haar swartmense nie “ingesluit” het nie. (Elia was een van die profete na wie in die Bybel verwys word).

Die Wes-Kaapse provinsiale onderwysdepartement het volgens media-berigte Me Ngoasheng se sogenaamde “lesing” gereël.

Advokaat Prinsloo sê indien dit so is, het die departement daarmee kinders by die skool roekeloos blootgestel aan hierdie anti-ligvellige en anti-Christelike opswepery en politieke indoktrinasie tydens hul skoolopleiding en dat dit saam met die regerende Demokratiese Alliansie in die Wes-Kaap daarvoor aanspreeklik gehou moet word.

MEDIAVERKLARING                                                     GEEN EMBARGO

ROODEPOORT, SUID-AFRIKA

7 NOVEMBER 2022.

Adv Jurg Prinsloo SC
Adv Jurg Prinsloo SC

UITGEREIK DEUR ADV. JURG PRINSLOO SC, LEIER, AFRIKANER SELFBESKIKKING PARTY

Kontaknommer: 073 327 2061