Die Rol van Suid-Afrikaanse Dames in 2020 – Deel 1 (Finansiële Behoud)

Goeiedag, Dames

Ek vertrou dat almal van julle ‘n geseënde Christusfees beleef het. Die ou jaar is op sy rug en ons het pas die nuwe jaar tegemoet geloop. Vanuit Dagbestuur se oord is daar ‘n groot behoefte uitgespreek om ons dameslede in staat te stel om ondersteuning aan hul huisgesinne en gemeenskappe te verleen. Ek wil beklemtoon dat nie een van julle alleen is in jul stryd nie. Ons neem kennis van die huidige struwelinge en ons sal ons bes doen om julle te adviseer en te lei, soos julle dit mag benodig.

Met dien verstande sal ek poog om finansiële, emosionele en gemeenskaplike raad te verskaf sodat ons mekaar in die komende jaar kan onderskraag en (Godbehagend) heel anderkant kan uitstap. In hierdie artikel bespreek ek dus eerstens finansiële behoud en verskaf ‘n paar riglyne wat deur elkeen van julle gevolg kan word.

Die daaropvolgende onderwerp sal handel oor die aanspreking, en oorkoming van, geestelike en fisieke weerloosheid in ons dames en dogters. Hou gerus die FN-blad dop vir opkomende plasings.

INLEIDING

Kersfees 2019 het gekom en gegaan. Familie en vriende het opgepak en huiswaarts gekeer, besoek is gebring aan diegene wat nie self kan reis nie en al wat nou nog voorlê is die gejaag om skryfbehoeftes en ander skoolbenodighede te bekom vir die kroos wat oor ‘n paar kort weke terugkeer skool toe. Die huis is weereens stil, met net die geluid van die kinders wat die swembad nog ten volle benut en die getoet van verkeer wat elke nou en dan my gedagtes onderbreek.

Ek sit hier by my rekenaar en besin. Wat ‘n jaar was 2019 tog nie? Ons het vriende en familie gegroet wat emigreer het. Ons het langs oop grafte gekniel en hulle wat moes agterbly, getroos. Ons het ons sente getel, weer getel en maar in die beursie gebêre. Oral was foto’s van kinders wat honger ly, ouers wat verslae is en oumensies wat versaak is. Daar was plaasmoorde, gesinsmoorde, kapings, verkragtings, verwaarlosing, korrupsie, bedrog, gemenespel en wat nog. Ek is persoonlik dankbaar dat 2019 agter die rug is, maar wat hou die nuwe jaar tog in?

Ons staan aan die voorfront van wat moontlik die mees geskiedkundige jaar in die ganse historiese leeftyd van Suid-Afrika kan wees. Aan die een kant is daar die ekonomiese implikasies van voorgestelde BTW-verhoging en verhoogde inkomstebelasting. Aan die ander kant is die haatlike grondonteieningsbeleid wat nie alleenlik op grond gemik is nie, maar op ons stedelike eiendomme en bates.

En ek hoor julle sug en vra: “Wat staan ons te doen?”

Vriendinne, moeders, dogters, susters, grootmoeders en tantes … Front Nasionaal is daar om die beoogde verhogings en grondonteieningsduiwel te stuit. Nie vir een oomblik moet julle twyfel aan die mag van ‘n klompie Godvresende mense met ‘n gesamentlike doel voor oë nie.

Een ding wat ek wel wil beklemtoon, is dat ons, as dames en volksmoeders, onsself en ons gesinne voor moet berei.

Die Liewe Vader het ‘n vrou so ongelooflik kompleks geskape. Ons is terselfdertyd mamma’s, verpleegsters, skeidsregters, sielkundiges, afrigters, mentors, gehoor- en spreekbuise. Ons plak spoeg en pleisters op eina’s, luister na ons mans en vriendinne se laste en bied advies of sommer net afleiding. Ons werk voldag, jaag huistoe, versorg ons gesinne, sien deur die nag om

na olike kleingoed en troeteldiere, om maar net weer op te staan en alles die volgende dag te herhaal. Ons balanseer werk, gesinstyd en sosiale verpligtinge. Ons herinner ons mans om hul lisensies te hernieu, help ons kinders om hul skoene te soek, gaan kuier vir ouma’s, oupa’s en ander geliefdes, kuier saam met vriendinne en kniel in die aand om almal in gebed aan Hom op te dra.

Ons is emosioneel, ondersteunend, innoverend, betroubaar, bevoeg, ambisieus, eerlik, intelligent en inspirerend. Ons voer die honger straatkind, neem vir die ou tannie wat alleen woon brood, melk, tee en suiker, skreeu langs die kantlyn vir ons sportiewe kinders en neem aktief deel aan gemeenskapsprojekte. Hoekom sal enigiets wat ons aanpak dan nie ‘n sukses wees nie?

Die ekonomie het, en sal altyd, sy op- en aftye hê. Deur seker te maak dat jy voorbereid is vir enigiets (indien nie alles nie), kan jy ‘n skans bou tussen jou gesin en die slegte tye.

  1. SKEP ‘N NOODFONDS. Al kan jy slegs R50 per maand spaar, doen dit. Diegene wat meer kan bekostig, kan dit oorweeg om iemand wat minder bevoorreg is in gedagte te hou en namens hulle te spaar en te help wanneer dit nodig is.
  2. BETAAL JOU SKULD AF. Deur jou skuld te delg of jou paaiemente so laag as moontlik te kry, sal jy makliker kan oorleef in die geval van werkloosheid of indien jy die strop nouer moet trek om welke rede.
  3. SKEP AANVULLENDE INKOMSTEGELEENTHEDE. Tydens finansiële onrus in ‘n land, is daar altyd ‘n kans dat jy jou werk mag verloor. Jou hoof-fokus behoort te wees om jou huidige pos te behou, maar ook om gereed te wees om weer die mark te betree, sou jy dit verloor. Hou dus jou CV op datum, ondersoek alternatiewe opsies, of begin ‘n klein besigheid om jou huidige inkomste aan te vul.
  4. SPREI JOU BELEGGINGS UIT. In Engels waarsku hulle om nie al jou eiers in een mandjie te hou nie. Benut die goeie raad en probeer jou beleggings soveel as moontlik versprei.
  5. PRAAT DAAROOR. Gaan sit met die res van jou gesinslede en gaan oor jul gesamentlike finansies. Hoe julle jul verskille uitpluis in terme van jul benadering tot geld sal ‘n yslike effek hê op jou gesin se finansiële behoud. Nou is byvoorbeeld die perfekte tyd om vir jou kinders ‘n voorbeeld te wees, en hulle te wys hoe om laer te trek gedurende moeilike tye sodat almal se welstand verseker kan wees.
  6. VERMINDER UITGAWES. Jy hoef nie jou lewenskwaliteit op te offer nie. As jy net die onnodige uitgawes uitsny, kan jy nogsteeds jou huidige lewenstyl handhaaf. Vra jouself eerder, ‘is daardie kredietkaart regtig die moeite werd?’ Het jy werklik ‘n nuwe selfoon nodig, wanneer die een wat jy tans het nie eens ‘n ou merkie het nie?
    1. As jy naby ‘n kollega woon, stel rybeurte voor. As jy aktief is en naby genoeg aan die werk woon, oorweeg dit om per fiets heen en weer te ry, mits dit veilig is. Sodoende spaar jy nie net brandstof en slytasiekostes aan jou voertuig nie, dit hou jou ook fiks.
    2. Moenie gaan uiteet nie. Probeer eerder tuis kook. As jou dagbeplanning dit nie toelaat nie, neem een dag uit die naweek en kook groot, deel dit dan in porsies en bevries dit om in die week wat kom te gebruik. Dit spaar nie net tyd nie, maar ook geld.
  7. HOU JOU BAAS GELUKKIG. As jy ‘n werk het, doen jou bes om jou baas soveel as moontlik te beïndruk. Wys jou baas dat jy onvervangbaar is. Daag vroeg op, bly laat en bied jou hulp aan met alles wat binne jou kennisveld lê. Werkgewers lê nie hardwerkende werknemers af nie.
  8. BLY SPAAR. Selfs al sien jou spaarrekening daar goed uit, is dit nie genoeg nie. Hou aan om daardie bietjie ekstra af te knyp. Te veel is altyd beter as nie genoeg nie.
  9. WEES DANKBAAR. Moenie dat vrees jou gevange hou nie. Tel jou seëninge en skep behae in die wete dat jou beplanning klop. Spandeer tyd saam met familie, maak beurte om saam met jou bure te kook en trakteer die kleinspan op tuisgemaakte nagereg of lekkernye wanneer die geleentheid (en die begroting daarvoor) homself voordoen.

  10. Vir Besigheidseienaars
  11. IMPLEMENTEER ‘n RISIKOBESTUURPLAN. Indien jy nie alreeds een het nie, ontwikkel en implementeer ‘n risikobestuurplan in die geval dat daar ‘n moeilike finansiële tyd opduik. Die plan behoort stappe te hê wat jy kan neem, sou jy besigheid of kliënte verloor weens ‘n verswakte ekonomie. Voorkoming is beter as genesing, en dit maak meer sin om voorbereid te wees as om in die middel van die fiasko te moet dink aan oplossings terwyl jou werknemers (en jyself) histeries begin word weens die onsekerheid. Maak seker dat jy ‘n konkrete plan van aksie het en versprei dit aan bestuurders en vennote om ook te volg.
  12. VERMINDER UITGAWES. Jou eerste instink behoort te wees om uitgawes te sny. Dit kan jou besigheid drywend hou terwyl jy ‘n meer permanente oplossing uitdink of totdat die ekonomie herstel. Kyk na die vermindering van oorhoofse kostes soos krag en water, administrasie en produkvermorsing. Jy kan ook jou voorrade verminder om sodoende te voorkom dat jou bates nie in produkte vas is wat dalk maande kan neem om te verkoop nie. As dit nie werk nie, oorweeg die volgende:
    1. Sny jou advertensiekostes. Kanselleer jou televisie- en of radio-advertensies en konsentreer eerder op jou sosiale-mediateenwoordigheid. Dit is gratis, en verg slegs tyd en noukeurigheid van jou kant af.
    2. Afskaling. Jou ander opsie is om na ‘n kleiner perseel te trek, of om van jou werknemers te laat gaan. Dit gaan aanpassing kos, maar dit behoort jou deur te dra sodat jou onderneming minstens kan oorleef.
  13. LEI JOU WERKNEMERS OP. Sodoende los jy twee potensiële probleme op. Eerstens bied jy jou werknemers die geleentheid om meer kennis op te doen, wat hulle dan weer in staat stel om ‘n ander pos te bekom as jy geforseer word om personeel te verminder. Tweedens bied dit aan jou ‘n beter geleentheid om jou besigheid op dreef te hou, deurdat jy werknemers sal hê wat meer as een taak kan vervul. Dit hoef jou nie eens geld te kos nie. Laat jou ontvangsdame vir ‘n uur of twee by jou rekeninge-afdeling sit om waar te neem wat hulle doen, of vra jou algemene werker om die telefoon te beman terwyl jou ontvangsdame met ete is.
  14. FOKUS OP JOU KLIËNTE. Jy moet al jou energie en tyd nou daarin werp om jou kliënte die middelpunt van jou besigheid se fokus te maak en jou goeie verhouding met hulle te verbeter en te handhaaf. Maak seker dat hulle weet hoeveel jy hulle waardeer. Maak seker dat jou kwaliteit voortdurend uitstekend is, selfs al moes jy hier en daar aanpassings maak aan materiale en/of goedere.
  15. MOENIE JOU PRYSE VERLAAG NIE. Ek kan dit nie genoeg sê nie. Deur dit te doen, maak jy dit vir jou kliënt ongelooflik moeilik om jou gewone pryse te regverdig sodra die ekonomie herstel. Die enigste uitsondering is promosies of afslag aan kliënte wat ook sukkel. Maak net seker dat jy aan hulle kommunikeer dat dit ‘n grasie is en nie noodwendig herhaal sal word nie.

Indien daar enige vrae is, nooi ek julle hartlik uit om persoonlik met my in verbinding te tree.

Tot volgende keer.

Lori

1 thought on “Die Rol van Suid-Afrikaanse Dames in 2020 – Deel 1 (Finansiële Behoud)”

  1. Pingback: Suid-Afrikaanse Dames in 2020 – Deel 2 (Verstandelike Uithouvermoë) - Afrikaner Selfbeskikking Party

Leave a Comment