MEDIAVERKLARING
Donderdag 4 Julie 2024.
Johannesburg. Geen embargo.
Uitgereik deur Adv. Jurg Prinsloo SC, leier, Afrikaner Selfbeskikking Party
Onderwerp: Die VF Plus in die sogenaamde “regering van nasionale eenheid”.
Nou is die ware politieke beleid van die nasionale leierskap van die Vryheidsfront Plus onteenseglik ontmasker.
Volgens The Citizen (3 Julie 2024) het die (nasionale) bestuur van die VF Plus hul leier, Pieter Groenewald, oorreed om die pos van Minister van Korrektiewe Dienste in die ANC-beheerde nasionale regering van Suid-Afrika te aanvaar.
Daar is nou duidelik geen aptyt in die party se nasionale leierskorps vir die 30 jaar oue verkiesingsbelofte van die VF Plus om ʼn Afrikaner volkstaat deur onderhandeling met die ANC te verkry nie.
Groenewald het al vroeg in die afgelope verkiesingsveldtog aangedring dat die politieke partye in die sogenaamde Veelparty-Handves hulle agter ʼn swart leier skaar.
Kort voor dieselfde verkiesingsveldtog het hy ʼn jong VF Plus-raadslid van Nelspruit geskors omdat laasgenoemde ʼn historiese volkseie ZAR “Vierkleur”-vlag by ʼn VF Plus-byeenkoms ontplooi het.
The Citizen berig dat professor Dirk Kotzè van Unisa benadruk het dat die VF Plus in die onlangse verkiesingsveldtog nie die skepping van ʼn volkstaat voorop gestel het nie, dat die idee van selfbeskikking nie vir die VF Plus ʼn party-saak was nie, en nie is wat die VF Plus wil hê nie. Professor Kotzè het volgens The Citizen verder gesê dat die VF Plus nie oor ʼn volkstaat praat nie, nie hul eie staat wil hê nie, en trouens meer ʼn “span-speler” is.
Deur die aanvaarding van ʼn ministerspos in die ANC-beheerde regering distansieer die VF Plus-leier en sy nasionale bestuur hul opnuut van die strewe na selfbeskikking van die Afrikanervolk.
Afrikaners met selfrespek, en hul anderstalige ligvellige lotsgenote, durf nie sulke leierskap aanvaar nie.
Kontaknommer: 073 327 2061
E: admin@afrsp.org.za