DIE OOGLOPENDE VALS VERDUIDELIKINGS VIR POETIN SE INVAL IN OEKRAïNE

Die wêreld is geskok deur die inval van Russiese magte in Oekraïne.

Geskok omdat die inval self ʼn duidelike skending van die soewereiniteit van Oekraïne is, en  ook weens die duidelike vals verduidelikings wat onderskeidelik vòòr, en ná, die begin van die inval deur die huidige diktatoriale president van Rusland, Wladimir Poetin, en sy ambassadeur in Suid-Afrika, gegee is.

 Poetin het tot kort voor die inval die openbare versekering gegee dat hy geen inval beplan met die sowat 150 000 soldate wat met hul offensiewe gevegstoerusting saamgetrek het op die grens van Oekraïne nie.

Hy het selfs verklaar dat die saamtrek van Russiese gevegseenhede bloot militêre oefeninge was wat toe voltooi is, en dat eenhede soldate reeds begin het om terug te keer na hul basisse in Rusland.

Toe die inval op 24 Februarie 2022 plaasvind, het Poetin dadelik sy deuntjie verander en erken dat hy dit so beplan het. Dit beteken dat hy skaamteloos vir die wêreld (insluitend sy eie Russiese mede-burgers) gelieg het oor sy doel met die saamtrek van die Russiese weermag-eenhede op die Oekraïnse grens.

Op 16 Maart 2022 het die Russiese ambassadeur in Suid-Afrika, Ilja Rogatjef, na verneem word, verskonings vir die inval aangevoer tydens ʼn webinaar van die Universiteit van

Johannesburg. Die beweerde veskonings is so ooglopend ongeloofwaardig dat Rogatjef duidelik daarmee die begripsvermoë van die gemiddelde Suid-Afrikaner onderskat.

Hy beweer dat die Oekraïners die invallende Russiese troepe verwelkom omdat dit die land verlos van sy beweerde neo-Nazi en gemilitariseerde regering. Die valsheid van sy bewering word deur die beskikbare getuienis uit Oekraïne ontbloot.

 Drie miljoen Oekraïners het al uit Oekraïne gevlug sedert die Poetin-invalsaksie begin het. Die Oekraïners verset hul deurlopend met verbasende solidariteit en vasberadenheid teen die invallers.

Wooneenhede, hospitale en ander mediese inrigtings word tans spesiaal deur die invallers geteiken. Soldate wat in die land verwelkom word, sal sekerlik nie sulke weerlose teikens kies nie.

Die huidige president van Oekraïne is van Joodse afkoms.

Verder is dit nou algemene kennis dat die Oekraïnse weermag nie naastenby soveel wapentuig of sulke moderne wapentuig as die Russiese weermag gehad het toe die inval begin het nie.

Verdere getuienis dat die verskoning vals is, is die dreigement deur Poetin self dat hy moontlik kernwapens sal gebruik in die konflik.

Rogatjef het verder beweer dat die mees dringende rede vir die inval was om te verhoed dat Oekraïne die twee gebiede wat weens Poetin se militêre inmenging hulself eensydig onafhanklik van Oekraïne verklaar het, deur Oekraïne aangeval mag word.

Dit is ooglopend ʼn geval waar Poetin sy eie wederregtelike magsuitbreiding in die grondgebied van die soewereine Oekraïne probeer konsolideer met militêre onderwerping van die res van Oekraïne.

 Rogatjef het verder aangevoer dat Rusland bedreig gevoel het weens die moontlikheid dat Oekraïne miskien by die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (“NAVO”) mag aansluit.

Hierdie verskoning dui op die totale minagting van Poetin vir die territoriale integriteit van die Oekraïne. Die NAVO is nie ʼn offensiewe organisasie nie. Dit is geskep om juis moontlike aanvalle van enige aggressor teen enige van sy lidlande te kan afweer.

Die Oekraïners moet geloof word vir hul dapper verset teen die inval van Poetin se magte.

Hulle kan verseker wees van die ondersteuning van die Afrikaner Selfbeskikking Party, en die party se seënbede vir hul stryd om hul vryheid te behou.

MEDIAVERKLARING                                                                             GEEN EMBARGO

ROODEPOORT, SUID-AFRIKA

23 MAART 2022

UITGEREIK DEUR ADV. JURG PRINSLOO SC, LEIER, AFRIKANER SELFBESKIKKING PARTY

Kontaknommer: 073 327 2061

E: admin@afrsp.org.za