MEDIAVERKLARING Pretoria 13 Oktober 2020
Die Afrikaner Selfbeskikking Party (“AFRSP”) het kennis geneem van die ANC/SA Kommunistiese Party/COSATU – alliansie regering se publikasie van die Onteieningswetsontwerp, 2020 op Vrydag 9 Oktober 2020.
Die AFRSP het reeds op Donderdag 14 Junie 2018 by wyse van die persoonlike skriftelike voorlegging van sy huidige leier, en weer op 31 Januarie 2020 by wyse van ǹ skriftelike voorlegging namens die AFRSP aan die parlement, kommentaar gelewer op die destydse voorgenome wysiging van Artikel 25 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996.
In die voorlegging op 31 Januarie 2020 is gewaarsku dat wysiging van Artikel 25 van die Suid-Afrikaanse Grondwet vir onteiening van eiendom vir die uitgesproke rasgedrewe ideologiese redes van die Suid-Afrikaanse regering en sy kommunistiese meelopers in stryd is met die Volkereg en neerkom op ǹ misdaad teen die mensdom soos omskryf in Volkeregtelike instrumente waaraan Suid-Afrika gebonde is. Voorbeelde hiervan is genoem, soos Artikels 2, 17 en 30 van die “Universal Declaration of Human Rights” van die Verenigde Nasies Organisasie, gelees met die Aanhef daarvan, Artikels 14 en 19 van die “African (Banjul) Charter on Human and Peoples” Rights” en Item 1 van Bylae 1 van die “Rome Statute of the International Criminal Court”.
Die feit dat die ANC/SA Kommunistiese Party /COSATU -alliansie en hul meelopers nou skynbaar van taktiek verander het deur nie Artikel 25 van die Grondwet te verander nie, maar net eenvoudig in die Onteieningswetsontwerp voorsiening te maak vir hul rasgedrewe ideologiese onteieningsdoelwit, asof dit in ooreenstemming is met Artikel 25 van die Grondwet, is futiel. Veral klousule 12 van die wetsontwerp, wat met die bepaling van vergoeding vir onteiening handel, bevat bepalings wat strydig is met Artikel 25 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 en met bepalings van die Volkereg.
Die Afrikaner Selfbeskikking Party waarsku dat die regering en sy meelopers moet afsien van hul rasgedrewe kommunistiese poging van onteiening sonder vergoeding, en die bepalings van die Volkereg en die fundamentele regte in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 eerbiedig.
Uitgereik deur: Jurg Prinsloo SC. Leier, Afrikaner Selfbeskikking Party. Kontaknommer: 0824142687.