OPE BRIEF: EISE AAN DIE SUID-AFRIKAANSE REGERING.

AFRSP Brief Hoof
AFRSP Brief Hoof

                                                                                                                  18 Junie 2020.

President Ramaphosa,

Uniegebou,

Arcadia,

Pretoria.

E-pos:  presidentrsa@presidency.gov.za

U Eksellensie,

OPE BRIEF:   EISE AAN DIE SUID-AFRIKAANSE REGERING.

In die lig van optrede van die Suid-Afrikaanse regering wat duidelik skadelik is vir Suid-Afrika en in sekere gevalle ook strydig is met die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 en van die Volkereg, rig die AFRIKANER SELFBESKIKKING PARTY hiermee die onderstaande eise aan die Suid-Afrikaanse regering waarvan u die hoof is, met die verdere eis dat u regering onmiddellik aan die eise voldoen. Die party se motivering daarvoor word hieronder uiteengesit:

  1. Herroep alle wetgewing en staak alle administratiewe handelinge deur staatsorgane wat gebaseer is op ras of velkleur en laat die volke van Suid-Afrika toe om vryelik hul kulture te geniet en te bewaar.

Op 20 April 1964, aan die einde van sy sabotasie- en onderdrukking van kommunisme verhoor, het meneer Nelson Mandela ǹ toespraak gelewer wat drie ure geduur het en waarin hy die Hof vertel het dat hy geveg het teen “swart” oorheersing en “wit” oorheersing en dat hy die ideaal

gekoester het van ǹ “demokratiese” en “vry”gemeenskap waarin alle mense in harmonie sou saamleef en met “gelyke geleenthede”. Hy het verder gesê dat dit ǹ ideaal is waarvoor hy gehoop het om te leef, maar indien nodig, ook bereid was om te sterf.

By die CODESA-onderhandelings vóór 27 April 1994 het die ANC- onderhandelaars, insluitend meneer Mandela en uself, deurlopend aan al die ander onderhandelaars , die inwoners van Suid-Afrika met ligte velle en donker velle, en aan die internasionale gemeenskap, voorgehou dat die ANC sy welbekende oorlog teen die regering en publiek van Suid-Afrika gevoer het as gevolg van wetgewing enpraktyke watgediskrimineer het teen mense met donker velle op die basis van hul ras en velkleur. Die ANC het by daardie onderhandelings aan almal te kenne gegee dat hulle daarna streef  om ǹ sogenaamde nie-rassige staat totstand te bring soos deur meneer Mandela beoog in sy toespraak op 20 April 1964.

Die tussentydse Grondwet  van 1993, wat deur die Nasionale Party regering deur die parlement geloods is, het verskeie artikels tot daardie effek bevat. Die Grondwet van 1996, geskryf deur die ANC nadat dit die regerende party in Suid-Afrika geword het, bevat steeds verskeie artikels wat voorgee om nie-rassigheid (artikel 1(b)) asook gelykheid van alle burgers (byvoorbeeld artikels 1(a), 3(2)(a), 9(1),9(2) en 9(3) te verseker, maar artikels 9(4) en 9(5) maak merkbaar voorsiening vir sogenaamde “regverdige diskriminasie”.

Terwyl die Nasionale Party regering al op 28 Junie 1991 die wetgewing wat vir rasse-klassifikasie voorsiening gemaak het, herroep het, het die ANC- regering ná 27 April 1994 ǹ primitiewe, irrasionele en arbitrêre stelsel van statutêre rasseklassifikasie ingevoer en diskriminerende wetgewing gemaak wat gebaseer is op daardie klassifikasie. Hierdie wetgewing diskrimineer blatant teen alle persone wat nie geklassifiseer word as

“swart”nie, veral in terme van die sogenaamde Broad-based Black Economic Empowerment (“B-BBEE”) Act, 53 van 2003.

Die administratiewe aanwending van hierdie rassistiese wetgewing, wat op sigself totaal irrasioneel en arbitrêr is, het die massiewe emigrasie van

honderdduisende jong Suid-Afrikaners met ligte velle, wat probeer om nou ǹ lewe buite hierdie land van hul geboorte te maak, veroorsaak, asook die

vernietiging van vele eens-produktiewe sake-ondernemings waarvan Suid-Afrikaners met ligte velle die eienaars of bestuurders was.

Gedurende die huidige landswye inperking wat deur die ANC beveel is, het die rassistiese raserny van die ANC-regering ǹ afstootlike hoogtepunt bereik toe die ANC-regering besluit het om rassistiese B-BBEE formules toe te pas wanneer dit noodbetaling van belastingbetalersgeld toeken aan private sake-ondernemings wat slagoffers van die inperking is, en geweier het dat noodvoedsel versprei word deur persone met ligte velle. Wat veral afstootlik is, is die feit dat ǹ regter van die Hooggeregshof toe bevind het dat die genoemde rassistiese noodbetaling van belastingbetalersgeld regtens gegrond is.

Dit is na ons mening nou duidelik dat die ANC vir die ander onderhandelaars en internasionale waarnemers by CODESA vóór 27 April 1994 gelieg het en dat dit aanhou om vir die burgers van Suid-Afrika en die internasionale gemeenskap te lieg oor hul sogenaamde verbintenis tot “nie-rassigheid”en “gelykheid”. Dit moet onmiddellik stop.

Artikel 6 van die Grondwet van 1996 bepaal dat daar elf amptelike tale van Suid-Afrika is en artikel 30 daarvan bepaal dat elkeen die reg het om die taal van eie keuse te gebruik en om aan die kulturele lewe van eie keuse

deel te neem op ǹ wyse wat bestaanbaar is met die bepalings van die Handves van Regte in daardie Grondwet.

Artikel 29(2) van die Grondwet verskans die reg van elkeen om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelik doenlik is, en die Staat

moet daarvolgens doeltreffende toegang tot, en verwesenliking van, hierdie reg verseker.

In volslae teenstelling hiermee het die ANC-regering hom begewe op ǹ doelbewuste veldtog om onderwys in alle tale behalwe Engels,sowel as

onderwys van skoliere en studente in ooreenstemming met hul eie kulture, te vernietig. Dit moet onmiddellik stop.

  • Ondersoek, arresteer en vervolg onmiddellik alle misdadigers binne, en buite,- die regering.

Die ANC-regering het vir jare die hele strafregstelsel van die land ondermyn deur die ontplooiing van lojaliste in hoë ampte in die Nasionale Vervolgingsgesag, Suid-Afrikaanse Polisiediens en elders. Die gevolge van daardie proses word steeds gesien. Hoë-profiel ANC-leiers en hul politieke  pleitbesorgers word selde voor die gereg gebring nieteenstaande sterk prima facie getuienis van hul oortredings.

Insidente soos die Life Esidimeni skandaal ondermyn die vertroue van die publiek in die strafregstelsel: Tussen 2015 en 2016 is sowat 1700 geestelik gestremde Suid-Afrikaners, die mees kwesbare mense in die gemeenskap, vanaf lank bestaande diensverskaffer Life Healthcare deur die Gauteng Gesondheidsdepartement na private instellings oorgeplaas wat duidelik nie

geskik was om vir hulle te sorg nie. Sommige daarvan was geleë in eenvoudige voorstedelike wonings wat inderhaas aangepas is. Die gevolg was dat 144 van hulle ǹ grusame dood van honger en/of  verwaarlosing

gesterf het. Niemand is nog voortspruitend uit hierdie skandaal van enige misdaad aangekla nie. In plaas daarvan is die naasbestaandes van die

pasiënte wat opgespoor kon word, miljoene rand belastingbetalersgeld betaal as troos.

Honderdbiljoene rand is gesteel of vermors deur ANC-kaders in alle vlakke van die regering terwyl werkloosheid onder gewone Suid-Afrikaners dramaties gestyg het, basiese munisipale dienste drasties versleg het en in

vele munisipaliteite heeltemal in duie gestort het. Openbare infrastruktuur soos paaie, water- en elektrisiteitsvoorsiening en rioolbehandeling het so ǹ toestand van verval bereik dat damme en riviere, insluitend sekeres wat drinkwater aan metropole verskaf, verander is in opvangdamme vir onbehandelde munisipale riool.

Verskeie ANC-kaders is ontplooi in ondernemings wat aan die staat behoort, soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens, Eskom en PRASA, waar hulle miljoene aan salarisse verdien het terwyl hierdie instellings in duie gestort het as gevolg van wanbestuur en, in sommige gevalle, korrupsie.

ǹ Algemene kultuur van onaanspreeklikheid van ANC-kaders in openbare ampte is onder ANC-bewind gekweek.

U het valslik vir die leier van die Vrye Wêreld gesê dat daar nie moorde op plaasboere met ligte velle in Suid-Afrika plaasvind nie. U regering versuim om die nodige stappe neem om plaasmoorde, wat nou al in die duisende tel, te voorkom.

Die misdadigers binne en buite, – die regering moet onmiddellik voor die gereg gebring word.

  • Verwerp onmiddellik die vernietigende kommunistiese ideologie.

Kommunistiese partye dwarsoor die wêreld het ǹ geskiedenis van vernietiging van die ekonomieë van die lande waaroor hulle regeer. Die middel-inkomsteklas word finansieel vernietig sodat ǹ klein elite oorbly wat

al die finansiële en politieke mag het oor die verarmde res van die bevolking.

Suid-Afrika is geen uitsondering nie.

Suid-Afrika was die juweel van Afrika voordat die ANC die regering geword het. Dit was Afrika se bastion teen kommunisme. Werkloosheid het byna nie bestaan nie. Die ekonomie het gefloreer en al die inwoners van die land en miljoene ander Afrikane van ander Afrika-lande gevoed.

Toe kom die ANC aan bewind in 1994.

Die produktiwiteit van die land se industrieë het daarna aanhoudend verlaag onder die ANC as gevolg van kommunistiese, rassistiese wetgewing en praktyke wat in die werksplek afgedwing is.

Bendes misdadigers is toegelaat om staatsinfrastruktuur soos skole, universiteitsfasiliteite, biblioteke en kantore straffeloos te vernietig.

Onwettige immigrante het die land binne gestroom oor ons grense, groot misdaadsindikate totstand gebring en burgers van ons land uit werkgeleenthede gedruk.

ǹ Kultuur van wetteloosheid het ontwikkel en gefloreer, selfs in die instelling wat veronderstel is om die wetsgehoorsame burgers van die land te beskerm, naamlik die polisiediens.

Die ANC-regering het versuim om dit te stop.

Die ANC-regering het die ongebreidelde verryking van sekere van sy lede toegelaat terwyl die res van die bevolking verarm het, die waarde van die

rand ǹ onoortroffe laagtepunt bereik het en die land se krediet-gradering verlaag is na rommelstatus.

Die ANC-regering het met ǹ proses begin om die Grondwet van die land te wysig in ǹ poging om die valse indruk te wek dat die gewysigde Grondwet

die diefstal van die private eiendom van Suid-Afrikaners met ligte velle sal wettig. Die ANC-regering is alreeds gewaarsku dat sodanige diefstal ǹ misdaad teen die mensdom is waarvoor die oortreders indiwidueel en gesamentlik aanspreeklik sal word.

Daar moet onmiddellik afgesien word van die proses om die Grondwet in hierdie opsig te wysig.

U  het opsetlik in die openbaar die geskiedenis van die Afrikaner/Boer volk se heilige Geloftedag vals voorgestel in ǹ duidelike poging om vyandigheid tussen die Zoeloe- enAfrikaner/Boer volk teprobeer skep. U het dit

gedoen op die openbare vakansiedag 16 Desember 2019 wat ironies deur die ANC hernoem is tot “Versoeningsdag”.

Voorbeelde is volop van kommunistiese regimes wat in die loop van die geskiedenis vir strategiese politieke redes konflik geskep het tussen hul burgers. Die insident op 16 Desember 2019 lyk na so ǹ poging.

Die ANC regering moet onmiddellik die vernietigende pad van kommunisme verwerp en homself verbind tot die heropbou van Suid-Afrika as ǹ moderne, produktiewe land.

Die Uwe,

Jurg Prinsloo SC.

Leier, Afrikaner Selfbeskikking Party.