Daar is GEEN rede waarom wetsgehoorsame mense hoef te staan en toekyk hoe hul goed verwoes word nie.
Artikel 42 (3) van die Strafproseswet 51 van 1977 magtig alle privaatpersone wat die eienaar, wettige okkupeerder of persoon in beheer van eiendom is met betrekking waartoe iemand gevind word ENIGE misdaad pleeg, mag sonder ń lasbrief so ń misdadiger in hegtenis neem. Die persoon mag selfs iemand anders magtig om die inhegtenisneming sonder ń lasbrief uit te voer.
Pogings om byvoorbeeld opsetlike saakbeskadiging of brandstigting of diefstal te pleeg, is op sigself misdade. In terme van artikel 49 (2) van dieselfde wet mag die gemelde privaat inhegtenisnemer die mate van geweld gebruik wat noodsaaklik en proporsioneel is om die verset teen die inhegtenisneming, of ontvlugting daarvan, te bowe te kom ( maar minder ernstig as ernstige liggaamlike besering of doodslag van die misdadiger).
Indien die aard van die misdaad wat die misdadiger besig is om te pleeg, egter reeds die lewe van die privaat inhegtenisnemer of iemand anders bedreig , OF die misdadiger tydens ń wettige poging van ń privaat persoon om hom in hegtenis te neem, die lewe van die privaat inhegtenisnemer, of iemand wat hom wettig bystaan met die poging om die misdadiger in hegtenis te neem, of enigiemand anders, bedreig, EN die enigste redelike manier om dit te verhoed is ernstige liggaamlike besering of doodslag van die misdadiger, kan die privaat inhegtenisnemer die misdadiger dermate beseer of selfs doodmaak.
Daar moet onthou word dat hierdie wetsartikels BYKOMSTIGE magte aan private persone toeken spesifiek ten opsigte van gevalle waar private inhegtenisneming tersprake kom,en gladnie die gemeenregtelike reg tot noodweer (ook genoem “private defence” in Engels) beperk nie.
Vir wettige noodweer word vereis dat daar ń onwettige aanval op ń persoon (die verdediger of iemand anders) OF HUL EIENDOM moet wees of onmiddellik- dreigend moet wees en dat die geweld wat gebruik word om die aanval, of onmiddellik- dreigende aanval, af te weer, in die omstandighede van die spesifieke geval NOODSAAKLIK en proporsioneel tot die erns van die aanval of onmiddellik-dreigende aanval moet wees maar DOODSLAG van ń aanvaller mag in elk geval nooit in terme van noodweer bloot ter verdediging van EIENDOM toegepas word nie.
Indien die aanval of onmiddellik-dreigende aanval redelikerwys afgeweer kon word sonder toepassing van geweld, moet daardie nie-geweldsopsie gebruik word.
!['n Foto van Advokaat Jurg Prinsloo SC, Leier van die Afrikaner Selfbeskikking Party](https://afrikanerselfbeskikkingparty.co.za/wp-content/uploads/2020/01/Advokaat-Jurg-Prinsloo-SC-260x300.png)
Seënwense.
Adv. Jurg Prinsloo SC
Nasionale leier – ASP
Afrikaner Seflbeskikking Party /
Afrikaner Self-determination Party